Tuesday, August 08, 2006

Die lang pad huis toe... - Deel 2

Meeste van julle sal sekerlik onthou dat ek 'n hele rukkie terug(Dinsdag die 23ste Mei)geskryf het oor hoe ek gaan sukkel met my paspoort....

Meeste van julle het waarskynlik gelag & gedink dat dit onmoontlik is, Suid Afrika se konsulaat in 'n ander land behoort mos standaard kwaliteit te wees.

Vir julle wil ek sê:"...soort van..."

Maar kom ons antwoord eers vrae wat gevra is in die afgelope tydperk wat opgebou het tot vandag toe:

1. My swaer Fré in Holland:
'Veel succes, Jaco. Ik begrijp dit sal nog 'n bietjie duur voordat jy ons kan kom besoek.'

Dankie Fré, ek het eers gedink dat ek julle dalk nie gaan sien nie maar nou is daar dalk 'n baie skrale kans...baie skraal.

2. Vriend Willem :
'hehe, so wanneer deport hulle jou...kan nie wag nie!!! hoekom koop jy nie vir jou 'n fake een op die straat hoek en speel mission impossible 4 nie...al wat jy nodig het is shades...jy weet mos'

Willem, hoe jy op die einde geëindig het by tandheelkunde bly nog steeds maar vir my 'n misterie...ek sê jou jy het jou roeping gemis...regtig.

3. Vriend Thys:
'Briel, jou op kak praat en stront aanjaag. blog weer vir 'n slag.'

Ek moet eerlik wees & erken dat ek niks minder van hom verwag het nie op die een. Sy sinsbou is nerêns & sy hoofletter gebruik is iets om te aanskou - sou hy dit nou eendag gebruik.

4. 'n Dame genaamd Natasja(Check hulle fotos - dit het my die hele middag besig gehou.)
'Ek het gisteraand my man se paspoort gewas (dit was in sy broeksak). Die ding is in flarde en sy werkpermit ook. Het vandag die BI-9 vorm gaan optel by daai useless konsulaat plek. Het jy al gegaan om papierwerk in te gee?'

Natasja - Nee...& ek gaan julle nou vertel hoekom nie.

So 1ste dinge 1ste.

Die dag voor ek toe nou konsulaat toe moes skiet moes ek eers Polisie toe gaan omrede ek mos nou 'n verklaring moet aflê dat my paspoort weg is.

Nou kyk ek is 'n man. & Mans is oor die algemeen trotse wesens(vrouens is soms selfs erger).
Maar kyk né...ek kan ook maar 'n dom man wees.

Ek lyk moerse netjies & stap by die Polisie stasie hier naby my werk in. 3 van die ouer garde sit agter die toonbank & lyk okol lus vir werk(hierdie area is half septies).

Maar ek smile, groet hulle & sê ek wil graag 'n gesteelde paspoort aanmeld.

Gesteel ?!!

Dadelik wonder ek hoekom ek dit gedoen het. & dan dink ek want ek gaan soos 'n sot lyk as ek sê ek het die belangrikste dokument van my dalk saam met my oorpluisies weggegooi..per ongeluk natuurlik.

Die dame vra my waar is die paspoort gesteel?
& Ek, moerse selfvoldaan, antwoord uit my 'girlfriend' se handsak op 'n bus in Wood Green...

Dis nou hier waar jy begin wonder of ek nie dalk bedoel het ek is 'n aap nie...

Hier binne in die leë holtes van my skedel begin daar skielik onweer rondspring & al wat ek by myself dink is: "Waddefok Jaco ?!".

Nou dit is 'n baie standaard & natuurlike storie om te hoor iets is van 'n meisie af gesteel...veral van 'n bus af & VERAL in Wood Green. Daarmee vind hulle geen fout nie. Maar wat hulle wel wou weet is of my meisie die saak al gerapporteer het. Sonder om te huiwer sê ek nee, sy het net 'n lëe beursie & my paspoort in haar handsak gehad...was ek maar net 'n politikus.

Ek is skielik in my noppies toe ek besef hoe ek by die bobbies op my voete staan & jok(Let wel - Dit was bloot om my 'stupitgeit' te beskerm).

Maar soos die geluk wil hê draai daai wiel toe 1 & 'n half keer & slaan sommer brieke vas.

Die dame(nog steeds in haar stoel) loer vir my & sê dat hulle net vir my 'n vorm sal gee as ek my meisie kry om eers 'n verklaring af te lê met betrekking tot die gesteelde goedere.

Moerse afgehaal & met gekromde skouers stap ek uit die polisie stasie uit...

Ek dink nie julle besef ten volle my dilemma nie...sien...op daai staduim had ek nie eers 'n meisie gehad nie !!

Net ter inligting moet ek erken dat ek daai selfde aand vir Miriam uitgevat het met wie ek snaaksgenoeg later mee uitgegaan het....my tydsberekining is ook soms nerêns nie.

So...

'n Rukkie terug het die briel dus nou besluit dat hy wil terugkeer na die moederland toe & sommer heeltemal rigtings verander & sommer so bietjie gaan studeer ook. Ek het my vinger uitgeruk & Tukkies gekontak, studente nommer & alles gekry & sovêr lyk dit of alles nog voor die wind gaan. Hel, ek was self uit die wind/deur die wind(?!) geslaan dat ek soiets op my eie(met behulp van die gawe ouers natuurlik) gedoen het - baie naais.

Ek het ook met 'n skok agtergekom dat ek nog steeds nie 'n paspoort het nie(glo my ek het lekker gelag & toe nog lekkerder gehuil).

So 2 weke terug besluit ek wag, hierdie kak moet nou uitgesorteer word. Maar nou moet ek julle laat verstaan dat ek nie regtig so lui was nie. Dinge/wette/reëls verander hier by die dag. Jy kon nou nie meer net by die konsulaat instap nie, nee, jy moet aansoek doen. Kliek hier om te sien wat ek bedoel.

Hulle werk nou op 'n 'appointment system' & jy moet nou d.m.v email/foon of faks hulle kontak om aansoek te doen vir 'n 'appointment'.

So ek doen dit toe maar - neem kennis dat hulle slegs oop is tussen 08h45-12h45.

Ek bel hulle dag & nag maar niks, ek bel hulle waneer ek moet slaap & ek bel hulle van die werk af, van my sel af & ook selfs probeer van die toilet af...maar niks, die foon sê die heeltyd number busy. Met 'n traan in my oog hou ek so aan elke dag, hopende dat dit hulle dié keer is & nie ek nie. 'n Paar dae daarnae blog gabba Rolf oor hoe hy ook met hulle sukkel.

Ek lag natuurlik & wonder of dit met my ook gaan gebeur. Teen die tyd mail & faks ek hulle nou al elke dag & probeer ek nog deur kom met die foon maar daar gebeur net niks. Die trane wel op & ek dink by myself hoe ek dalk nou nog 'n jaar hier moet sit & stagneer. Dan loer ek weer op Rolf se blog & sien dat hy 'n verskillende e-mail adres van die konsulaat het as die 1 wat op hulle webbladsy verskyn. Ek sien die ligstraal deur die wolk bars & 'n tik 'n e-mail amper so lank soos die blog vir hulle.

3 ure later ontvang ek 'n sms...Dis die konsulaat & my afspraak is geboek vir die 23ste Aug. om 11:30.

'Sweet'...

Vanaand weer polisie toe skiet vir nog vinger afdrukke & ander dokumente(daar werk juis so sexy donkerkop, blou oog dame daar by die Wood Green stasie nou) & dan kan ek net hoop dat alles vorentoe 100 is...

Ons praat weer.

No comments: